Graham Greene ('n Persoonlike Ervaring) (De Kat, 1989-10-01)
Vanuit Digitale Etienne Leroux Projek
Die Britse skrywer Graham Greene word vandeesmaand 85. Die skrywer Etienne Leroux, 'n vriend van hom, gee 'n persoonlike penskets.
---
Ek het niks teen die Swede nie, behalwe dat hulle nooit die Nobelprys aan Graham Greene toegeken het nie. Dekades lank was hy al 'n moontlike wenner, maar telkens het 'n onverstaanbare iets gebeur. Jare gelede - byvoorbeeld met die verskyning van The Power and the Glory, The Heart of the Matter, en The End of the Affair - is een van die grootste skrywers in daardie tyd misken. In die jare daarná het dieselfde gebeur. Toe Böll die Nobelprys kry, het hy genoem dat dit eintlik Graham Greene toekom. Graham is 'n skrywer wat die onmoontlike reggekry het: Om kontemporêr te skryf, reg in die middel van 'n politieke situasie, en tog met 'n agtergrond van geloofservaring. Sy kritici het altyd gesê: "There is always the confessional in the background." Ek dink nie Graham het daarvan gehou nie. Hy is die grootste individualis wat ek ken, en hy wil nie gekatalogiseer word nie. (Ek weet dat die woord "gekatalogiseer" hom woedend sal maak.)
Liewers dan op die man af. Soos ek hom ken, 'n tweeling van Evelyn Waugh. Die twee het 'n merkwaardige verhouding gehad. 'n Wedersydse respek ondanks struweling, en elkeen op sy eie manier, uit eie reg, 'n weerspieëling van hul tyd. Albei produkte van 'n public school en 'n gesogte universiteit. Albei Rooms-Katolieke.
Nadat ek al die jare sy boeke getrou met groot bewondering gelees het, kry ek op 'n dag 'n briefie van ene Graham Greene uit Antibes: die handskrif was onleesbaar. Dit was in 1968, en die mens vertel my dat hy van Seven Days at the Silbersteins hou. Ek het gedink dat dit van 'n Engelse expatriate met dieselfde naam as Graham Greene kom. Ek het toe taamlik patronisties teruggeskryf en gesê dat ek bly is dat hy van my boek hou en dat ek wens dat dit van Graham Greene kom. Toe kom 'n brief terug waarin hy bevestig dat hy Graham Greene is. Hy nooi my toe om hom in Antibes te besoek en bied aan om vir my in die Hotel Royale plek te bespreek, want die hotel het aangename romantiese herinneringe, en hy sal dieselfde kamer vir my probeer kry.
Toe ek in Nice land, sien ek hom vir die eerste keer, en ek herken hom dadelik aan foto's en die beskrywings van biograwe. Hy was onmiskenbaar Graham Greene: die lang man met yskoue blou oë, sy klere vaagweg bruin en glad nie stylvol nie. Langs hom was sy mooi Franse vriendin: toe val my horlosie van my arm af, sowel as my handbagasie, en Graham sê: "You always drop things," met alle deernis. Toe neem hulle my vir ete na een van die beroemdste eetplekke in die berge, dáár waar die patroon spog met Picasso's en so meer aan die mure. Terwyl ek oor die pragtige landskap kyk, vra ek hom oor die dood van Evelyn Waugh, "Did you know that he died with his head in a thunder box?" sê hy, verwysend na 'n toneel in Waugh se laaste trilogie. Toe bring hulle my na die Hotel Royale waar ek 'n kamer met 'n balkon en 'n uitsig oor die see het. Twee weke lank was die ritueel dat ek via die ramparts loop tot by sy woonstel nadat ek die ou Antibes verken het - want ek weet hy werk in die oggend - en middagete was altyd 'n ekspedisie na 'n nog beter eetplek.
Ek het hom in 1968 en 1970 besoek; intussen was daar 'n gereelde briefwisseling en die vorming van 'n hegte vriendskap. In 1972 het hy twee maande by my en Elizabeth kom kuier; daarna het ons twee keer by hom gekuier in die laat sewentigerjare. Daarom wil ek dié artikel in drie verdeel: my twee besoeke as enkeling aan hom; sy besoek aan Suid-Afrika; en ons latere besoeke aan Antibes.
As enkeling:
Sy woonstel is taamlik strakkerig, sy boeke beperk tot getekende eksemplare, 'n lelike skildery deur Castro aan die muur, 'n gale warning van Belize in die toilet, 'n diktafoon, malvas op die balkon, en 'n uitsig op die seiljaghawe. Hy bespied 'n leë gebou oorkant die straat en hy glo dat daar allerhande smokkeltransaksies plaasvind. Hy beskou my as naïef, maar iets kliek tussen ons. Daar is 'n eienaardige kombinasie van afsydigheid en betrokkenheid: 'n ironiese blik op politieke situasies, maar 'n besondere gehegtheid aan vriendskappe in die netwerk van internasionale politiek. Meer hieroor later.
Intussen, 'n anekdote net om Graham se jonkheid te bewys, sowel as sy onnutsigheid, in 'n hoë ouderdom. Hy nooi my vir ete anderkant Cannes by 'n goeie eetplek wat gereeld deur die Franse middelklas besoek word. Die ete was uitgerek volgens Franse tradisie; hy en ek was albei rokers. Toe die groot roomkoek by ons verbykom, beduie ek iets aan Graham en my smeulende sigaret verdwyn met die swaai van my hand in die roomkoek. Graham was gefassineer om te sien wie die stompie in sy porsie sal ervaar. Ons het gewag, maar die sigaretstompie het as deel van die gereg verdwyn in 'n Franse middelklasmaag. Hy was toe besig om aan Travels With My Aunt te werk, en ons het "wayward aunts" bespreek. Terug in Suid-Afrika het ons ons briefwisseling voortgesit en omdat ek maar swak tik en min korreksies aanbring in my briewe aan hom, verskyn "the Dutch Deformed Church" toe in sy boek en die karakter word gepos na Koffiefontein in Suid-Afrika, sewe honderd myl van 'n ramvendusie af.
My aangenaamste herinneringe is ons kuiertjies by 'n goeie vriend van hom van die MI5. Terwyl hulle hul gesamentlike jare in die geheime diens bespreek, wonder ek soms hoe die Geallieerdes die Tweede Wêreldoorlog gewen het. Maar mens moet die Engelse nie onderskat nie: dis hul sin vir die ridiculous wat die Nazi's onkant betrap het.
Maar daar was 'n Philby wat 'n gat gemaak het van die MI5. Ek vra Graham toe: "Wat sou jy gedoen het as jy geweet het?" Toe sê hy: "Ek sou hom gesê het (maar dit is 'n terugblik ná dertig jaar): ek gee jou 24 uur tyd om te verdwyn."
Só ken ek Graham.
Toe hy in 1972 twee maande by my en Elizabeth gekuier het, het ek hom as mens baie beter leer ken. Eers het Kowie en Christelle Marais binne 'n rekordtyd byna die hele Transvaal aan ons gewys. Onder meer 'n besoek aan Modjadje, die Reënkoningin. 'n Hele ritueel was aan die ontmoeting verbonde: 'n gebukkende houding, die voorstel van ons almal, geskenke van 'n sjaal aan die Reënkoningin en 'n bottel jenewer aan Heks, haar eerste minister. Hy was die spreekbuis, want niemand anders mag haar regstreeks aanspreek nie. Wat Graham besonder geboei het, was dat Heks alle vrae met 'n balpuntpen op die palm van sy hand neergeskryf het; maar wat eintlik Graham se belangstelling gaande gemaak het, was dat die boeke She en Ayesha van Rider Haggard op die legende van die Reënkoningin gebaseer is. Dit was 'n blote toevalligheid dat ons 'n drankie in Pelgrimsrus gaan drink het in 'n kroegie wat eens 'n kerkie was. Die kroegman kom van Wenen en hy is 'n goeie vriend van Anton Karras, wat die Harry Lime-tema op sy siter gespeel het. The Third Man het Graham direk as 'n draaiboek geskryf. Hy gee toe 'n kort briefie aan die kroegman met vriendelike groete van hom aan Anton Karras. "He was the only man who really made money out of the whole deal," sê Graham toe ons die plekkie verlaat.
Ek het opgelet dat Graham baie nuuskierig is en dat hy in ontmoetings en gesprekke dikwels die onderlaag van spanninge en verhoudinge waarneem eerder as wat aan hom vertel en gewys is. Hy was byvoorbeeld besig om aan The Human Factor te skryf toe hy hier was en dit was tipies van sy vakmanskap as storieverteller om sy verbeeldingsvlugte so na aan die werklikheid te hou. Hy wou byvoorbeeld van my weet watter soort motors die destydse BOSS sou gebruik het, wat die beste ontsnappingsroete uit Suid-Afrika sou wees, 'n naam vir die swart meisie, en so meer.
Binne dié kort bestek kan ek maar min vertel wat nie al bekend is nie. Ek het briewe van hom waarin hy vertel dat sy roman nog nie van die grond af kon opstyg nie. En dit is vir my, as 'n romanskrywer, 'n aandoenlike ervaring dat selfs die beroemdste piloot op die gebied van die roman ook onseker is wanneer hy die stuurstang moet trek om die roman lugvaardig te maak.
In onderhoude met Jay Parini kan u lees van sy vriendskap met Castro, gen. Omar Torrijod van Panama: die leiers van Nicaragua wat digters en skrywers is. Hy het byvoorbeeld 'n gedeelte van die tantieme van Monsignor Qixote aan die Sandanistas gegee. Hy het die hoogste kulturele toekenning van Nicaragua gekry terwyl 'n Engelse konsul sou fluister: "Old man, you have been had." Dit is nie waar nie. Niemand vang dié geniale storieverteller met 'n slapriem nie. Hy sê dat hy geen Marxis of kommunis is nie. Miskien 'n Sodiaal-Demokraat, en dit betwyfel ek ook.
Ek onthou Graham Greene as 'n mens wat volkome vry is, en mét sy vryheid 'n gevoel van verveeldheid. Daarom sal hy altyd veg om nie sekulêr in 'n hok gejaag te word nie. Ek dink ook nie dat hy na die bieg gaan nie, omdat hy nie volgens die wette van die kerk skuldig voel oor die lewe wat hy lei nie. Maar ons het 'n mis bygewoon in vader Claerhout se kerkie in ThabaNchu.
Ek is baie lief vir dié man. Norman Sherry sal die bepalende biografie oor hom skryf. Die eerste deel het al verskyn. Intussen kan 'n goeie vriend maar net fragmente van ontmoetings noem.
In die algemeen sy siening oor Suid-Afrika: 'n pragtige land, maar apartheid stik in sy keel. Maar hy het in die jare sewentig gesê dat dit net die Afrikaners sal wees wat 'n einde aan apartheid sal bring.
Ons huidige toestand sal moet bewys of Graham Greene se voorspelling destyds korrek was.